Oom Wessel ook ‘n (rekord) breker soos Bekker

Met net so oor die R9.6-biljoen op sy naam het oud Volkie Koos Bekker verlede jaar weer die top 10 van Business Day se Rich list behaal.

Hy is bekend as een van die stigters van M-Net/Multichoice en MTN en was natuurlik ook vir meer as 15 jaar die uitvoerende hoof van Naspers.

Bekker is sonder twyfel een van Volkies se beroemdste uitblinkers, maar as jy vandag by die skool se voorportaal instap, sal jy nie ‘n foto van die legende gewaar nie.

In die administratiewe geboue pronk talle potrette van hoofleiers en leerders wat die land op nasionale vlak in sport verteenwoordig het.

Een van die  mees erkenbare gesigte teen die muur is dan ook dié van Proteas bouler Fanie de Villiers wat ook vir spiesgooi nasionale kleure verwerf het.

Deesdae is De Villiers ‘n SuperSport kommentator wat die televisieprogram BVP aanbied. Sy broer Neels is onlangs as adjunkhoof by Hoër Volkskool aangestel so daar is geen twyfel dat dié familie diep spore in die skool se geskiedenis bly trap nie.

Daar is egter een foto in die voorportaal wat so bietjie minder opvallend, dog belangrik is. Dit is ‘n ou swart en wit rugby kiekie van die vierdespan wat in 1960 hul liga gewen het.

Op die foto wat heel onskuldig tussen talle ander hang wat uit die oudedoos kom, kan ‘n 18 jarige Wessel Oosthuizen gevind word.

Nou oom Wessel – selfs die huidige minister van sport toon hom die respek deur hom as ‘oom’ aan te spreek – het nooit vir die Springbokke of Proteas gespeel nie.

Hy het beslis ook nie biljoene rande op sy naam nie en daar is min Heidelbergers wat van dié oom se prestasies weet.

Met meer as 54 jaar ervaring is oom Wessel ons land se bekendste en mees gerespekteerde sportfotograaf.

Hy het al vir talle publikasies gewerk, insluitende The Citizen, Sapa (South African Press Association) en Gallo Images, en het ook onlangs ‘n foto agentskap SASPA (South African Sports Picture Agency) op die been gebring.

Hoewel hy reeds agt boeke gepubliseer het, het hy as fotojoernalis vroeg in sy lewe daarmee vrede gemaak dat hy nie ‘n multi-miljoenêr soos Bekker sou word nie.

Tog kan dit wat oom Wessel in lewenservaring opgedoen het,  beslis nie in geld gemeet word nie.

Hy het op verskeie toere saam met die Springbok rugbyspan gereis en het ook elke Olimpiese spele sedert die land se terugkeer uit isolasie gedek.

Hoewel hy reeds talle pryse vir sy foto’s verwerf het, is hy in 2006 en 2007 (toe reeds in sy 60s) as Springbok fotograaf van die jaar aangewys en in 2009 het hy een van die eerste fotograwe geword om by die SA Sport Hall of Fame ingesluit te word.

In 2013 is hy ook as die SA Sport Fotograaf van die Jaar bekroon en dit lyk nie of hy gou sy kamera gaan neersit nie.

Hy en Fanie de Villiers het onlangs by Hoër Volkskool tydens ‘n fondsinsameling funksie oor die omstandighede waarin hulle groot geword het gesels en dit was verstommend om te dink dat beide diè legendes nie met die witbrood onder die arm grootgeword het nie.

Terwyl Fanie vertel het hoe sy gesin op een van die eerste plotte buite die dorp gewoon het wat sementvloere gehad het, het oom Wessel weer verduidelik dat dit beslis nie maklik was om as een van sewe kinders die mas op te kom nie.

Beide die manne het ten spyte van hul omstandighede die piek van hul onderskeie velde bereik – hoewel oom Wessel vandag veral trots oor sy rugby prestasies is.

“Ek was ‘n briljante rugbyspeler,” vertel oom Wessel.

“Daar was net een matriek in die vyfdespan en dit was ek.”

Die foto waarin oom Wessel in die skool se voorportaal verskyn, is egter van die vierdespan.

“Die onderwyser het tydens die fotodag gesorg dat ek saam met die vierdespan afgeneem word, want hulle het daardie jaar ‘n trofee gewen,” lag die seun van die voormalige stasiemeester.

Hy het in ‘n onderhoud met HERAUT ook bevestig dat daar ‘n hoofstuk oor sy tyd in Hoër Volkskool in sy nuwe boek sal wees.

Oom Wessel het verlede jaar  ‘A Portrait of Rugby’ vrygestel waarvan hy  twee kopiëe aan sy alma mater vir fondsinsamelingsprojekte  geskenk het. Die versamelstuk bestaan uit 1237 van die beste rugbyfoto’s en sal jou so R1500 uit die sak jaag.

Sy nuwe boek is ‘n memoir getiteld ‘Boesman van Val’ en sal teen Mei op die rakke wees.

Volgens betroubare bronne handel een van die staaltjies wat hy in die boek noem oor die dag toe hy en sy maat amper die skool se kleedkamers met ‘n tuisgemaakte bom opgeblaas het.

Ons sal maar moet kyk en sien hoeveel waarheid in die gerugte steek.

Die moontlikheid bestaan wel dat oom Wessel reeds meer as 9.6 biljoen foto’s in sy loopbaan geneem het.

Oom Wessel Oosthuizen en Fanie de Villiers gesels oor die goeie ou dae.

Oom Wessel Oosthuizen en Fanie de Villiers gesels oor die goeie ou dae.

  AUTHOR
Michael Mentz
Journalist

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

Top